Reuke en geure van toeka toe ek nog kind was…

kroese0011Sover ek kan onthou het ek my daaglikse gang met die hulp van gepaardgaande reuke iewers in my verstand gestoor. Vandag nog assosieer ek herinneringe uit vervloë dae met die reuke en geure wat destyds daarmee gepaardgegaan het.

Ek onthou soggens my pa se gerusstellende Tabac after shave en Oom Fanus se penny whistle kwêla, die Springbok moerkoffie wat Pa soggens klokslag om 06h00 deur die siffie in die koffiebottel kom gooi het. Selfs die daaropvolgende Lexington filter. My Pa se verbaasde uitdrukking op die gesig wanneer die buurman, winter deur somer, skuins na ses uit die sauna in sy yskoue swembad duik. Dit ruik na bloekomolie. Ek onthou hoe my pa altyd sy koffie laat koud word het voor hy dit gedrink het en hoe my ma sy koffie kom uitdrink het wyl dit staan en afkoel. Jean Patou se “Joy” parfuum laat my onthou hoe my pa nooit kwaad geword het nie en geduldig maar nog ‘n koppie gaan skink het – net vir die afkoelproses om van voor te begin. Soms was dit Chanel # 5 of Fiji. Dubbin en die reuk van ‘n nuwe Super Springbok rugbybal en Deep Heat voor ‘n wedstryd. Gooi daarby ‘n klipharde Kookaburra 4 piece krieketbal en ek is gelukkig.

Laerskool Stellenbosch ruik soos staatsgeboue steeds vandag. Selfs na die liberation van 1994. Kil neurdrukkend en onpersoonlik. Soos JAM van Schoor se Hitler snor (dit was voor ons van Mugabe geweet het) en soos alle NG Kerke binne-in. Dis nie plekke wat met ‘n positiewe gemoed verband hou nie. Dis plekke waar vrees en damnation die moed van menige kind geknak het. Maak soos ek sê en nie soos ek maak nie. Dis nie plekke waar ek ooit wou wees nie. Dit ten spyt bid ek steeds saans vir die wysheid en insig om die regte besluite te neem. Ek wag geduldig.

Op Koringplaas in die Swartland waar my ma grootgeword het ruik niks lekkerder as die koms van die reën nie. Daai dorre stowwerige Noordewind wat jou neus brand en dan skielik sag raak soos die stof meng met die reuk van klam stoppellande, daai bossies wat die streek sy naam gee en dreigende druppels. Ek weet nie hoe beskryf ‘n mens die begrip “ek ruik reën” nie. Ek weet net ek kan reën ruik, enige plek waar ek is en ure voor dit val.kroese02

My Ouma se huis op Koringplaas het na TCP geruik, soos my ma se badkamer vandag. Moerkoffie gemaak met brakwater, boerbeskuit gemaak met egte botter en genoeg sout. Soetsuurdeeg brode dik gesny, met uitgebraaide varkvet en sout en peper op – soms saam met bokkoms en korrelkonfyt. My broer Jannie het net Marmitebroodjies geëet. Die reuk van braaivleis oor rooikranskole, my Pa en oupa Sakkie agter die pakkamer en ‘n gebraaide Makou op Sondag. Kragparafien vir die 12 volt Lister enjin wat saans gloeilampe tot lig aangespoor het.

Ploegtyd op die plaas. Die reuk van grond pas omgeploeg, die dreuning van Massey Ferguson 178 trekkers, met 6 skaar Erdvark ploeë agterna. Die reuk van bloed en grond toe ek as 5 jarige my vinger teen selfs my eie kinderlike beterwete in die ratte agter op die dril (koringplanter) loop druk het. Vandag nog sit ek met nege vingers as ‘n herinnering dat ‘n mens somtyds vir jouself moet luister. Al is jy 5.

Die muwwe reuk van Oom Arthur en Tannie Kitty se huis by Agulhas, die fynbos daar, Stinkbaaitjie na springgety die bamboes daar kom los het vir die son om te verbrand. Die reuk van braaivleis op rooikranskole by die see. My Pa en oom Arthur onder die Melkhoutboom, Tannie Kitty en Ma in die kombuis. Daai spesifieke kruie reuk wat jy kry oppad Stilbaai en Jongensfontein toe. Afhangende van hoe die wind waai kom vertel hy jou die see is nie meer ver nie, gewoonlik by Riversdal rond. Tot vandag toe nog weet ek nie presies watter bos die reuk veroorsaak nie. Dis die mooiste plekke ter wêreld. Agulhas en Stilbaai en Jongensfontein.

kroese00001Waarom weet ek nie maar ek vang myself deesdae meer as gereeld terugdink aan die dae wat nooit weer sal wees nie. En dan besef ek weereens ‘n mens moet nooit ooit toelaat dat society se insecurities in jou pad staan om te wéés nie.

Advertisements

About In vino veritas

Some uncomfortable and sometimes misguided truths..
This entry was posted in Ongekategoriseerd and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Reuke en geure van toeka toe ek nog kind was…

  1. johan trautmann sê:

    Dankie Neil vir jou mooiste stuk ooit, ek lees jou al vir ‘n geruime tyd en wil altyd reply MAAR die stuk wil my laat ko huistoe. Woon al vir 20 jaar in Houston maar my siel woon nog steeds oppibos waar Jam my amper geknak het

    weereens dankie en hou aan skrywe

    groetnis johan(trautie) ook aan Jannie en jou ma

  2. Dankie Johan, great om van jou te hoor na soveel jare. En ja, JAM van Schoor….stilbly is ook ‘n antwoord.

  3. Alet sê:

    Dis asof mens se sintuie voortdurend op soek is na die bekende reuke – hier in die vreemde ook. Baie goed geskryf. Ek kan beslis met die heimwee identifiseer. Net jammer dat mens met jou bas in SA kan sit en steeds daarna verlang. Om ‘huis toe’ te gaan, gaan nie veel verskil maak aan die verlange nie. Komies om te sien watter produkte van SA ingevoer word hier in NZ – selfs samboksalf! Expats verlang na eienaardige dinge…

  4. Neil sê:

    TX, en jy is reg Alet, “Om huis toe te gaan” sal beslis nie verskil maak aan die verlange nie. mens verlang na goed wat lank reeds nie bestaan nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s