Oom Arthur Coomer – Force of nature en sy geelstert resep

Oom Arthur Coomer in sy WW 2 uniform

Oom Arthur Coomer in sy WW 2 uniform

<!–[if gte mso 9]> Normal 0 MicrosoftInternetExplorer4 <![endif]–>

My Ma het ‘n Oom gehad. Oom Arthur Coomer. Hy was getroud met my ouma se oudste suster, Tannie Kitty. Van kleins af was dit vir my ‘n treat om by die twee (ou)mense te gaan kuier. Hulle het geen kinders gehad nie. Oom Arthur was op sy eie wicket en ‘n total force of nature. So gemaak en so gelaat staan. Hy was ‘n WW 2 veteraan wat soms van stilte en eietyd gehou het. So lief soos ek vir haar was kon Tannie Kitty maar moeilik wees, soos net ‘n van der Merwe uit die Swartland kan wees. Ek dink Tannie Kitty was soms seker vir Oom Arthur erger as die oorlog. Hy was gereeld op ‘n safari na die destydse Betsuanaland en ek onthou hoe ons as kinders om die braaivuur gekraai het van die lag vir sy stories oor bobbejane wat sy kampvuur opgedonner het. Hier iewers in die vroeë 1970’s het Oom Arthur sy garage in Kuilsrivier aan Lindsay Saker verkoop en hy en Tannie Kitty het op L’ Agulhas loop aftree. Dis hier waar my aangenaamste herinneringe van L’ Agulhas begin.

 

Oom Arthur het vir hom ‘n Land Rover en boot aangeskaf. Geelstertvang was sy ding gewees en Tannie Kitty het die see gesit en kyk saam met die skildery van die ou man in die reënjas wat van oor Tannie Kitty se skouer ook sy see sit in kyk. So het Oom Arthur soms vergeet van sy vrou wat by die huis sit en wag en het hy dan kuier-kuier deur die distrik beweeg. Met sy tuiskoms was al die maaltye wat hy gemis het dan netjies vir hom op die stoof gelaat, elke bord noukeurig toegegooi met sy gehekelde doilie. Oom Arthur en Tannie Kitty het op daardie stadium nie meer in dieselfde kamer geslaap het nie. Nie omdat hulle nie meer lief was vir mekaar nie maar half ironies omdat hulle steeds so lief was vir mekaar om te besef dis dalk net beter so. Oom Arthur het vir hom ‘n stoepkamer ingerig. So kon hy dus kom en gaan na hartelus. Dis dan juis in die stoepkamer waar Tannie Kitty op ‘n kol ‘n muis ma met 6 klein muisies uit sy bed loop haal het. Sy mog nie in sy kamer krap nie en ook nie die plek aant kant maak nie. Op ‘n kol besluit sy toe hy weer op een van sy trips is om darem net skoon beddegoed te loop oortrek. Daar kom sy toe op Mev Muis en kroos af. Wat van die muise geword het kan ek nie onthou nie maar die feit dat my kinderbrein destyds die noodlot van die muise geblok het is seker ‘n stille aanduiding…

 

Wanneer ons dan vakansies daar gaan kuier het moes ek en my broer in die sitkamer op die banke slaap (god toe kon ek nog op ‘n bank pas). Oom Arthur was elke oggend voor sonop uit die vere. Van saggies beweeg het hy nie geweet nie en van kinders in die huis uiteraard ook nie. Nie dat dit my gepla het nie. Ek was verskiklik erg oor hom as kind en hy oor my. Seker omdat ek net so fokken ondeund en aweregs was soos hy. Ons was soortvan alies as die mense ons kak gee. Omdat Oom Arthur nie saggies kon opstaan nie was ek en Jannie soggens saam met hom wakker. Aanvanklik nie vrywilliglik nie. Later kon ons nie wag vir hom om op te staan nie. Ek was so 7 of 8 en Jannie 4 jaar ouer.

 

Oom Arthur se opstaanroetine was elke oggend dieselfde. Eers het jy die dubbeldeur na sy kamer hoor klak klak soos hy uitkom. Dan het ‘n hartlike diep teug vars seelug gevolg met die gepaartgaande byklanke van genoegdoening “aaaaaaahhhhrrrhhhh”. Keelskoonmaak en die bymekaarmaak van die nag se slympies was volgende en dan die “petoe!” soos hy die slympie die driveway af spoeg. Jy kon self die geruis hoor soos die slympie die gruis tref – ‘n sekonde of wat later. Impressive hang time inderdaad! Dan het die oggendpee gevolg. Prostaatprobleme het hy beslis nie gehad nie. Die opus magnum… ‘n lang bulderende, tog deernisgevulde poep, kompleet met kort knopie om mee af te sluit. Amper asof hy wou “Amen” sê. Elke oggend het ek en Jannie ons kak gelag vir die ritueel, maar geweet, eers na die poep en knopie kan ons gaan môre sê. Oom Arthur het ons dan op die landrover getel en saamgeneem op sy pre ontbyt trip. Dit was gewoonlik ‘n stop stop al groetende trip langs die kuspad af en soms ‘n kilometer of twee langs die Plaat ook om die see te bekyk. Dan hawe toe om die boot te gaan inspekteer en dan anderhalfuur later terug huis toe vir ontbyt en koffie. Dan het hy vir ons brakwater koffie gemaak en gewoonlik van gisteraand se oorskiet vis op sulke dik soetsuurdeegbrode gegee om te eet. Ons was gewoonlik al lankal klaar geëet teen die tyd dat die res van die huismense opgestaan het.

 

My pa was vir min dinge so bang soos knorrige honde en tandartse. Op L Agulhas was toe nog nie tandartse nie. So ry ons een oggend weer saam met Oom Arthur ‘n paar draaie. My pa gaan saam. Oom Arthur stop toe gou by ‘n vriend van hom net om “vinnig iets op te laai.” Ons bly sommer in die Landie sit. Twee uur later sit ons nogsteeds en wag en al wat opdaag is Oom Arthur. My pa wil nie uitklim nie, want die mense het twee sulke onvriendelike brakke gehad wat om die Landie loop en drentel het.Pa was inelkgeval te ordentlik om hom te loop roep. Enigste uitweg is toe maar om te sit en wag. Skielik kom Oom Arthur uit die huis gehardloop. “My donner Jan! Jammer ek het skoon vergeet julle is saam. Kom in en drink ‘n doppie….” Daar sit ek en broer Jannie toe nog twee donnerse uur agter op die Landie!

 

Dit was ook die tyd toe die Oriental Pioneer naby Struisbaai op die rotste geloop het. Die skip is deur sy eienaars gestrip van die waardevolste items en daar gelaat om te vergaan. Die plaaslike vissermanne het gereeld die skip gaan “loot” vir dit wat oorgebly het. Ook Oom Arthur het ‘n patryspoort en ‘n drank kabinet van die skip huis toe gebring. Ons is een jaar met oom Arthur se boot na die wrak, wat toe al begin opbreek het. Jy kon op ‘n stadium deur die ding ry as jy die deinings reg geskat het maar dit was effe gevaarlik om op die wrak self te klim. Dis was nogal indrukwekkend, alhoewel my pa nie baie gemaklik was met die deur die boot ry storie nie. Vandag is die wrak, wat eens ‘n bekende gesig op die horison was deel van die see.

 

Oom Arthur is in 1989/90 skielik aan kanker oorlede. Ek het toe vir Rembrandt sigarette gerep en Struisbaai / L’Agulhas was deel van area. Op my reise soontoe het ek altyd by Oom Arthur en Tannie Kitty gaan oorbly. Ek was twee maande voor sy dood nog daar. En ek is altyd met ‘n Geelstert huis toe.Een vir my en een vir my Ma. Na sy dood het Tannie Kitty spesiaal vir my ‘n foto van Oom Arthur gegee wat tydens die 2de Wêreld Oorlog geneem is. Hy was betrokke by die slag van El Alamein, maar wou nooit oor die oorlog praat nie, al het ons soms probeer uitvis. Kinders dink mos oorlog is moerse cool…. Die foto pryk vandag teen ons muur saam met al die ander familiefoto’s. Oom Arthur was ‘n ongelooflike mens met hope empatie en liefde vir sy medemens. Ek onthou hom veral vir twee goed: eerstens sy driftige gesprekke met my pa waarin hy uitgevaar het teen “die bloody burocrats”…en tweedens sy liefde vir Geelstert. Hy het ‘n Geelstert gebraai soos geen ander mens nie. My Ma het eendag sy resep afgeskryf soos hy besig was daarmee. Ek deel dit hier graag onder. (En as die resep dalk ooreenstem met een of ander fancy ding uit een of ander kookboek, don’t fuck it up for me, vir my bly dit Oom Arthur se resep…)

 

 

Oom Arthur se Geelstert

 

1 mooi vars geelstert. Jy kan die vis heel en gevlek hou maar ek verkies om soos Oom Arthur die vis te fillet en in mooi groot stukke te sny, die vel gekrap maar nie verwyder nie maar wel die kop en rugstring te verwyder. Behou dit, ek verduidelik later waarom. **

 

Die resep werk dan só:

 

twee uie gerasper

gelyke hoeveelheid as die uie goeie asyn en olie. Olyfolie werk nie hier nie.

1 teelepel suiker

sout en peper na smaak.

 

meng alles in ‘n glasvles en skud goed om te meng.

 

pak die vis in ‘n bak en marineer vis in die yskas vir ‘n minimum van twee uur. Onthou die asyn “kook” die vis, so moenie te lank marineer nie.

 

**(As jy die vis uit die marinade haal, neem die oorblywende marinade, kop en rugstringe en gooi in swartpot by die vuur. Stoof werk natuurlik ook maar als by die vuur is way cooler! Simmer alles saam – stadig terwyl die vis braai. Dit verander in die ongelooflikste sous om saam met die vis te bedien. Die jellie in die ruggraat en kop kook uit en verdik die sous. Trust me on this…Jy kan proe aan die sous en suiker, sout en peper byvoeg na gelang van jou smaak. Bedien as sous saam met vis.)

 

Meng nou gelyke hoeveelhede droë broodkrummels en gerasperde cheddar kaas. Dis die tricky deel en ek fok dit nog op. Maar hier is jy veronderstel om die kaas en krummels op die vleiskant van die vis te pak en so te braai dat al die krummels en kaas nie in die vuur bliksem nie. Maar selfs al gebeur dit, bly daar steeds ‘n korsie oor wat heerlik is.

 

Sit nou die vis met die velkant eerste op vuur.

 

Braai 6 minute aan elke kant. As jy ‘n heel vis gebruik i.p.v. die fillets is dit obviously ‘n bietjie langer, maar jy kry die idee. ‘n Gaar geelstert val maklik uit sy vel uit. Probeer net om die kaas en krummels so heel as moontlik te hou.

 

En daar het julle dit. Die beste Geelstertbraai wat jy kan kry. Salute, Oom Arthur!!!

Advertisements

About In vino veritas

Some uncomfortable and sometimes misguided truths..
This entry was posted in Resepte en kos goed. and tagged , , . Bookmark the permalink.

9 Responses to Oom Arthur Coomer – Force of nature en sy geelstert resep

  1. murphmuurprop sê:

    Vriend!

    Die “wedervaring” baie geniet! My bek water vir daai geelstert!

    Bly op hoogte,
    Murph

  2. Neil Kroese sê:

    jy het geen idee hoe lekker nie! Dis jammer geelstert loop eers Februarie / maart anders kon ons Oktober solank lewe een gebraai het! Die wat jy nou kry is egter duurder as fillet! (en nie altyd so vars nie!)

  3. Ek het die storie geniet. Nice en die foto, om die gesig by die mens te sit.

  4. oopkop sê:

    Hoe laat jy my nou verlang na Struisbaai en omgewing. My Ma is juis nou in daardie wêreld vir ‘n week of twee.

  5. Neil Kroese sê:

    dankie rosa, dis ‘n scan van die foto wat in my huis hang.

    Oopkop jy het geen idee hoe verlang ek na Struisbaai L Agulhas nie! Was nie laasjaar daar in Desember nie, kon slegs 4 dae inwerk in Februarie, so ontrekking is erg!

  6. Wipneus! sê:

    Dit was nou ‘n lekker lees inskrywing!

  7. Kerneelsie sê:

    Ai. Klink dit nou na ‘n lekker treat die. Sal seker eendag ook weet hoe dit voel as ek met my kierie die agter agter kleinkinders nader trek om te kyk of die kole al reg is. hehe

  8. kan ek asseblief hierdie storie in die Van der Merwe boek gebruik?

  9. Neil sê:

    Ongelukkig nie op die stadium nie. Die storie is reeds geoormerk vir puplikasie. Indien dit sou verander sal ek jou laat weet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s