Kos – Beesstertbredie soos my Ma dit maak…

Dis naweek en dis nog nie heeltemaal lente nie alhoewel die dagsonnetjie die week op Stellenbosch mens daai “nugget” gevoel van die nuwe seisoen wil gee. Daar is darem so bietjie rugby om te kyk die naweek, al is my Curriebekerseisoen reeds iets van die verlede…en na vannaand se WP – Sharks game gaan dit nog meer ‘n saak van gebed wees. (hoe die WP dit regkry om met al die hulpbronne en spelers tot hul beskikking dit vermag om so swak te vaar sal net hulle weet..’n vis vrot mos van sy kop af..so dis dalk die antwoord…) Dus dink ek dis ‘n goeie idee om die naweek in te gaan met ‘n resep. As jy dit vandag begin kan jy môre na die Bokke se wedstryd ‘n heerlike samesyn met spys en drank geniet. Min dinge kom by goeie samesyn met goeie vrinne, goeie kos en goeie wyn…

Beesstert is een van my gunsteling geregte. Wat altyd soos skenkel die eenkantvleis was wat die armes destyds so skaam-skaam vir ‘n sjieling by oom Loekie se slaghuis loop koop het, is vandag ‘n lekkerny. Teen R70 p/kg by my slagter, Birdstraat Slagtery in Stellenbosch, is dit lank nie meer bargainvleis nie. Ok, jy kan seker sulke vuil vetterige sterte vir goedkoper iewers anders koop, maar ek verkies Bert se pakkies, netjies skoongemaak en vet verwyder, teen R69, 95 p/kg. So ook maak ek eerder my eie as om dit in restaurante te bestel. Ek het oor die jare al verskeie variasies van beesstertbredie in restaurante raakgeloop, waarvan die gewildste seker die Tamatiebredie-variant is. Sulke bene wat in vet en tamatie “paste” dryf. Aaklige stront! Om die sterte met tamatie te loop verbaster, maak vir my geen sin nie, want dit veretter die smaak van die vleis en verander dit in … wel, bloot tamatiebredie, wat jy net sowel met R40 p/kg potjiekosvleis kon maak.(nie dat R40 p/kg hoegenaamd redelik is vir off cuts en vetknoppe nie….)

My ma het my geleer van “less is more” as dit by kook kom. So het ek haar manier van doen tydsaam gesteel, want dis nie eintlik ‘n resep persé nie, meer een van daai “Ag man, jy gooi bietjie van dié en bietjie daarvan en dan braai jy dit so effe en dan …” dinge. Onmoontlik vir die novice om op papier vas te lê. Maar nou ja, my geduldige bachelor dae het my tyd gegee om te “observe” …

Hier is dan hoe. Die resep is eenvoudig, maar om hom op sy beste te maak, neem twee dae.


Beessterbredie

Jy het nodig: (om 4 tot 6 eters te laat eet)

2 tot 3 kg mooi skoon beesstert, waarvan die meeste vet verwyder is

Olyfolie vir braai (of botter, net nie vegetable of sunflower olie nie!)

2 tot 3 lourierblare (gekneusde vars blare werk altyd beter)

5 tot 10 ml droë mostert

1 groot ui, gekap

2 vars knoffelhuisies, gekap

‘n Bottel goeie droë rooiwyn (Yonder Hill se Y-Merlot werk baie goed hier!)

Sout en peper na smaak (ek hou van effe meer peper)

Jy maak so:

In bietjie olie / botter, braai die uie en knoffel tot sag

Voeg die vleis by en seël effens.

Gooi nou die res van die bestanddele by. Eers net die halwe bottel wyn. Hou die res om by te gooi soos nodig.

Kook die vleis tot sag, gooi nog wyn by soos benodig. Wees egter versigtig om dit nie te loperig te maak nie.

Wanneer die vleis lekker sag is, skep dit uit en laat dit afkoel. Gooi die kookvloeistof in ‘n aparte bak en daat dit ook afkoel. Nou, dis hier waar die twee dae truuk inkom. As jy dit oornag in die yskas laat staan, sal jy die volgende oggend sien dat al die vet bo-op so ‘n heerlike jellie gevorm het. Skep die vet af en moer weg!

Voor opdiening, maak so:

Plaas die jellie en vleis terug in die pot en maak STADIG warm. Jy wil dit nie aanbrand nie. Vir kleur, stoom ek gewoonlik Woollies se klaar geskilde worteltjies (hulle het deesdae sulke funky wortelballetjies) vir 10 minute om dit gaar, maar nie pap nie, te kry. So 15 minute voor opdiening gooi ek die worteltjie en ‘n handvol (na smaak) bevrore “petit pois young & tender ertjies” by. As die ertjies ontvries en warm is, is dit tyd. (as jy die groente te vroeg byvoeg, kook dit byna weg en verloor kleur. Soms kook die vleis effe van die been af, maar dis nie vir my ‘n krisis nie.

Bedien met mengelslaai en basmati-rys of kapokaartappels. Onthou ekstra bakkies op die tafel, en servette vir die bene uitsuig die aflek en die uitspoeg.

Drink baie wyn saam met die eet, want dis lekker.

Advertisements

About In vino veritas

Some uncomfortable and sometimes misguided truths..
This entry was posted in Resepte en kos goed. and tagged , . Bookmark the permalink.

15 Responses to Kos – Beesstertbredie soos my Ma dit maak…

  1. Wipneus! sê:

    Dankie vir die resep! My mond water!!

    Jou ma was reg “less is more”. Deesdae oordryf hulle so met die speserye, jy weet nie meer wat jy eet nie 😉

  2. Neil Kroese sê:

    Dis ‘n plesier Wipneus. Hierdie “less is more” beleid van my ma geld vir al haar bredies en soppe, en nie een is neergeskryf nie! Ek verdwaal soms in die “knippie dit knypie dat” oerwoud, maar het darem al ‘n paar onder die knie. Hou maar dop vir die boontjiebredie,waterblomme, tamatiebredie ens ens wat nog blogland toe moet kom. Ek dink wat daai beesstert so nice maak is die feit dat meeste van die vet afgeskep word. Ek haat bredies wat in vet dryf. Jy proe later net vet en olie en niks van die bredie self nie.

  3. jana sê:

    oe heeeerlik!

    hierdie blog lyk vreeslik mooi.

    miskien moet ek vir my ook so ene aanskaf, kyk al die mooi lyne en gadgets en goed.

    en natuurlik los ons drellerige groenpaddamonsters buite in die koue om maar met homself te speel (niemand wil mos met iemand speel wat TWEE gatte het nie!)

    ewentwel.

    wil maar net kom sê ek mis vir jou daar.

    en ek gaan my nou ook nie langer met kak ophou nie.

    goedgaan! ek kom weer kuier hier by jou.

    j.

  4. Neil Kroese sê:

    Hello Jana! Gaaf van jou om te kom inloer. Die gadgets is nogal ‘n ding om te bemeester. Gaan maar stadig maar sal seker ook dit onder die knieg kry! Kom join ja. Die moderate knoppie werk lekker.

    Ek kuier steeds daar in LitNet se blogland, maar lewer maar min kommentaar want die trolle en uile volg my steeds.

    Waar is Santjie? Ek gewaar haar nêrens?

  5. netjane sê:

    Is dit nie makliker as jy kook en ons dan vir ete nooi nie? 😉

  6. netjane sê:

    O ja, wou nog byvoeg dat ek van jou tagline/blognaam hou

  7. Neil Kroese sê:

    jane jy is welkom, het al ‘n paar mense beesstert gevoer!

    Verkoon my ignorance…maar is ‘n tagline en blognaam dieselle ding? Ek sukkel bietjie met al wordpress se gimmicks!

  8. netjane sê:

    Umm…. Ek weet self nie, dis hoekom ek die twee maar as alternatief gebruik het! Ek dink jou “ab imo pectore” is jou tagline…

    Whatever?

  9. Neil Kroese sê:

    Jane is blykbaar die blognaam sien ek, so ekt darem iets reg gedoen want dis hoe dit moes wees. he he he

  10. Sonia sê:

    Hier is Santjie!

    Ek het kom nota’s vergelyk met die stertresepte, LOL.

    Joune klink banja lekker, man.

  11. …my jene hoe honored is ek nou met die hogere inloer van Santjie! 🙂

    Maak die stert en laat weet wat jy dink. Teak hom maar soos jy dink nodig, net nie tamatie by nie asb!.

    Wanneer sluit jy aan by die LitNet uitgeworpenes? (of is dit banneling (e)?) 🙂

  12. Sonia sê:

    Gwaan jy!

    Elke keer wat ek hierdie resep lees begin my mond onbeheerbaar water…
    Wanneer nooi jy my vir ete?
    🙂

    Uitgeworpene? LOL.

  13. Gwaan nogal! Daars een wat ek jare laas gehoor het. Sal jou maar vir ete nooi as ons gesettle het in Kanada!

  14. melanie vd merwe sê:

    More, ek gaan Oxtailbredie die naweek kook en al my kinders nooi vir n heerlike Saterdagaand kuier voor die kaggel en natuurlik oxtail bredie..ek wil net weet , wat van klein ronde artappeltjies in die bredie , kan ek dit insit..ek sal al Vrydag die bredie kook om die vet af te skep Saterdag..en wat dan van n lekker malvapoeding vir nagereg. Kan iemand asb help met n resep..groetnis Melanie

  15. Neil sê:

    Hello Melanie

    Ja klein aartappeltjies is fine, ek vind dit net onnodig omdat ons gewoonlik die bredie of op rys op op kapokaartappels eet. Met die Malvapoeding kan ek jou ongelukkig nie help nie. Dit was nog nooit my sterkpunt nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s