Kos: Chimichurri-sous – ‘n alternatiewe braai-gedagte

ʼn Ordentlike braai het na my mening basies net een reël en dis ironies van toepassing op die gaste. Jy raak nie aan jou gasheer se vuur nie! Behalwe natuurlik wanneer hy vra. “Raak nie aan jou gasheer se vuur nie” sluit onder meer die volgende in. Jy gooi nie nog hout op nie, jy gooi nie die plastieksak waarin die hout gekom het op sy vuur nie, jy tip nie jou sigaretas in sy vuur nie en jy gooi nie stompies, sellofaan van sigaretpakkies, tissues, papierservette en dies meer in die vuur nie. Soveel meer terwyl die vleis besig is om te braai. Jy raak nie aan sy rooster nie en jy raak nie aan sy vleis nie.

Kortom, hou jou hande van my vuur af!

Soos die geval met baie Suid-Afrikaanse seuns het my Pa my leer braai. Skaap en lam, hoender, vis, wors en braaibrood. Ek braai vandag nog soos hy my geleer het en al moet ek dit self sê ek het nog nie klagtes oor my braaivernuf gehad nie. My skoonpa Pa Gawie het my leer steak braai. Ek het selde steak gebraai omdat ek altyd gevoel het steakhouses maak dit beter en ek kon nooit die steak in die “zone” kry nie. Altyd te rou of te droog.(vir my bestaan daar natuurlik nie iets soos “te rou” steak nie, maar gaste is soms ‘n pyn in die gat, veral diegene wat hul steak “medium rare maar meer medium as rare” wil hê.) Mense, daar bestaan nie so iets nie! In elkgeval, nooit steak gebraai nie tot Pa Gawie my die truuk gewys het. Smeer die steak lekker ruim olyfolie. Wag tot jou vuur nog so ‘n paar vlammetjies oor het. Gooi dan die steak op die rooster dat die olie vlamvat. Laat vleis nou lekker in die vlamme lê, smeer weer deur die olyfolie en draai om dat die anderkant ook lekker in die vlamme lê. Moenie skrik vir die vlamme nie, vleisie sal niks oorkom nie. Pasop net dat die vet nie brand nie en moenie swak onsuiwer olie gebruik wat rook as hy brand nie. Dit sal ‘n swart roet neerslag en smaak aan die vleis gee.  Nadat die steak geseël is braai jy hom klaar volgens spesifikasie. Indien verkies met ‘n basting sous. Ek gooi net sout en peper en bedien liefs ‘n sousie apart.  

Omdat ek ‘n toeklap rooster verkies bo die kroniese een een staan en vleis omdraaiery braai ek glad nie verskillende tipes vleis deurmekaar nie. Jy kan byvoorbeeld nie steak, lam en hoender op dieselfde vuur braai nie. Elke tipe vleis verg sy eie tipe vuur. Steak byvoorbeeld soek ‘n baie warm vuur waarvan die laaste vlamme nog brand om die steak te kan seël. Hoender benodig weer ‘n aanvanklike warm vuur maar een wat maak kan afkoel na gelang die braaiery aangaan. (en jere weet jy pre cook nie hoender voor jy dit braai nie! Sies man!) Lam / skaap en wors,wat terloops my gunsteling is, braai jy op  ‘n warm vuur wat sy hitte behou. Hierdie metode verg weliswaar baie omdraaiwerk maar dis is hoe jy daardie lieflike duimdik lam-lointjoppies kry dat die vleisgedeelte steeds vet en sappig is en die vetjie so ‘n dun crispy strokie gebraai is maar nooit swart gebrand nie. Warm vuur en heeltyd draai. Ek beheer my tipe vuur met die hoeveelheid en tipe hout wat ek  gebruik en natuurlik hoe lank ek hom laat uitbrand voor die braaiery begin.

My braaiplek is nie fëncy nie en het ‘n standaard hoogte. Nie dat hierdie konstante minder van ‘n logistieke poging kos om uit werk hoeveel hout gaan saam met watter vleis en belangrik natuurlik, om te verseker daar is voldoende hout beskikbaar vir ‘n ordentlike kuiervuur. Ek braai net met rooikrans of kameeldoring. As die vleis reg is gaan dit reguit tafel en borde toe. Niks van eenkant staan en taai stoom terwyl tafels gedek word, slaai gemaak word en nog doppe gegooi word nie. Ek en liefievrou sorg maar dat alle bykosse gereed en tafels gedek is voor die vuur aangesteek word. So kuier almal mos lekker saam.

My Pa was nie lief vir die bring-en-braai-ding nie en het dit soos die plaag vermy. Sy redes was eenvoudig. Hy het geglo mens braai nie afskeepvleis nie. As jy wil braai, dan gebruik jy die beste snitte. As jy genooi word na ʼn bring-en-braai is die kanse nul dat jy jou keurig uitgesoekte loin tjoppies ooit weer sal sien nadat dit in die communal bak verdwyn het. Jy kry mos mense wat lieslappe na ʼn braai toe bring, maar dan skaamteloos eerste die beste snitte gryp wanneer dit opskeptyd is. Ons het nooit bring-en-braai’s gehou nie. Ou Jan het self vir die vleis betaal en seker gemaak hy braai waarvan hy hou.

Tye het egter verander. Kleinhandelaars buit verbruikers uit en vleis is onbekostigbaar. Ek kan nie meer bekostig om onbepaald mense te nooi vir ʼn braai en dan self die vleis te koop nie. Kan dit skaars bekostig om self te braai. So verwag ek ook nie dat ander my uitnooi en vir die vleis betaal nie. Bring-en-braai sal dit dan maar wees, potensiële probleme ten spyt.

Die Argentyne het myns insiens lank reeds ʼn geskikte oplossing. Tradisioneel braai Argentyne gewoonlik ʼn groot verskeidenheid vleissoorte gelyk. En enige snit denkbaar. Amper soos in ons townships. Vleis word net so gebraai, sonder sout of peper. Saam met die vleis bedien hulle dan ʼn spicy doopsous genaamd “Chimichurri-sous”. Daar bestaan honderde variasies van dié sousie. Ek het deur trial and error een bymekaar gekry wat ek dink die lekkerste is.

Ek deel dit graag.

Neil se Chimichurri-sous

1 bossie vars pietersielie, fyngekap (enige soort)

4 of 5 lourierblare, gekneus en grof gekap (droog werk ook)

1 fyngekapte vars chilli met pitte (groen of rooi). Jy kan meer insit

8 knoffelhuisies fyngekap

3/4 koppie olyfolie (ek hou nie van te veel olie nie, verkies meer asyn)

1/2 koppie goeie wynasyn of bruin druiweasyn

1½ teelepel goeie balsamiese asyn

3 – 5 teelepels suurlemoensap (ʼn vars lemmetjie se sap is skaars maar beter)

1 tl varsgemaalde swartpeper

1 tl growwe seesout na smaak

1 tl cayenne peper

3 tl paprika of smoked paprika

1 tl droë origanum

Meng alles en gooi in ‘n glasfles; skud verwoed sodat dit lekker kan meng. Sit in yskas ten minste 24 uur voor gebruik. Hoe langer, hoe beter, maar nie meer as drie dae nie.

Braai nou jou vleis sonder marinade. Gooi net sout en peper wanneer dit van die vuur afkom. Sit vleis saam met die Chimichurri-sous voor. Gooi die sous in aparte bakkies en gebruik dit soos ‘n doopsous of sprinkelsous vir die vleis. Ons eet gewoonlik ʼn ordentlike groen slaai, ʼn nice tamatiesambal, Tzatziki en geroosterde pitabroodjies en tortilla wraps saam met die vleis en sous. Heerlik!

Advertisements

About In vino veritas

Some uncomfortable and sometimes misguided truths..
This entry was posted in Resepte en kos goed. and tagged , , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Kos: Chimichurri-sous – ‘n alternatiewe braai-gedagte

  1. boendoe sê:

    Jinne, dit klink njammies. Dankie!

  2. Emil sê:

    Ek bring en braai graag, maar sorg dat ek my vleis wel eerste vat. Dis ononderhandelbaar. My vleis kom uit Nambië, damara-skaap wat vry rondbeweeg. Selfs die vet het smaak.

    Ek deel ook graag, maar sorg eers dat ek my deel in het.

    Goeie vleis het nie sous nodig nie 😉

  3. Neil sê:

    My probleem is dat ten spyte van die obvious is ek gewoonlik laaste honger, wat beteken dat my tjops sonder uitsondering eerste voete kry. Ek het ongelukkig nie die kontakte wat jy het vir damara-skaap nie. Beste wat ek kry is merino ooi wat Swartland bossies gevreet het!

    Maar jy is reg, goeie vleis het nie sous nodig nie. Hierdie sousie is egter heerlik. Jy moet hom try.

  4. Sharpshoot sê:

    Bliksem! Daai sous klink heerlik! En ek hou van jou reels….

  5. murphmuurprop sê:

    Klink moer lekker…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s